Tuiste > Familie > Moedersdag memories: Kathy de Kock se lewensverhaal

Moedersdag memories: Kathy de Kock se lewensverhaal

Kathy de Kock

Dit was altyd so ‘n belewenis om saam met my jongste seun Kaap toe te ry om by hom en sy vrou bietjie te gaan kuier, of as hy my nie kon neem nie, met die bus te gaan; die mense was so interessant, dis amper of hulle oorborrel met geselsies, oud of jonk, die geniet was amper tasbaar. Ek onthou so goed, die een vrou het vir die maat langs haar vertel dat haar koffer vol vis was vir die kinders, en sy gaan sommer help huis regpak, want hulle het ‘n nuwe een gekoop, en dis baie werk wat voorlê. Ag, dit het so lekker geklink.

Dit neem my gedagtes nou weer terug na een keer toe ek na my kinders in Bloemfontein gaan kuier het met die bus en my dogter wat altyd baie padkos vir my gemaak het en in ‘n blik gepak het, maak toe sommer vir my ‘n fles koffie ook, dan hoef ek nie in die donker af te klim as die bus tydelik stop vir die wat ‘n eetdingetjie wil koop nie. Ek pak toe alles op ‘n rakkie in die bus, uit almal se pad uit. Maar ai, die duiwel is lustig en die fles koffie het seker sy dop los geskud met die ryery, en die volgende oomblik stort die koffie uit bo-op twee soldaatjies wat hulle boeglam geskrik het en nie mooi geweet het wat aangaan om hulle nie. ‘n Mens het nie geweet of jy moet lag of huil nie, in Engels sou dit ‘n ‘Comical tragedy’ wees. Nooit weer koffie in ‘n bus vir my nie! Maar om terug te kom na Niel en sy vrou toe. Eentonig was dit nooit daar nie. My suster Joyce bly in Brackenfell en die lang distansie wat sy moes ry na my seun se huis, was nooit vir haar ‘n las nie en so is dit dat sy my baie keer kom haal het om saam met haar inkopies te doen, of om by haar kinders te kuier en so het sy net besluit ons moet Strand toe gaan vir ‘n dag.

Ek was in my noppies, want die Strand was in my gemoed ‘n spesiale plek, baie herinneringe het ek gehad, dinge wat ek jare al ronddra hier binne in my. Ek sê hier binne in my, want ek het nooit met ander daaroor gepraat nie, dit het te seer gemaak, al was ek maar seker so 5+ jaar, toe ons daar gewoon het, en dinge skeef geloop het.
Ons was 5 kinders, 4 meisies en ‘n broer, hy was die oudste. My Pa het in Kaapstad gewerk, en my Ma en haar Ma het na ons kinders omgesien. Wat daar toe gebeur het sal ek nooit werklik weet nie, net dit, dat sy eendag sak en pak weg was, en ons klompie by my ouma gelos het. Ouma het ons goed versorg, baie geterg met viskoppe wat ons kastig wil byt, die lekkerste kerrievis gemaak, en lang ente na Somerset-Wes se kant toe geloop, tot by ‘n sekere huis waar ons kinders nooit toegelaat was om saam met haar daarin te gaan nie. Snags het ek lank wakker gelê en luister hoe die wind om die huisie se hoeke huil, na die blitse en donderweer gekyk wat op die see weerspieël het.
Met al die trauma wat homself afgespeel het, was ek lief vir die Strand en vir die see en die rotse. Tot eendag, toe daag my tante op om ons kinders te kom wegvat na my Pa se familie se huis. Dit was aaklig, ons het pak gekry vir enige stout ding wat ons gedoen het. Ons het gehuil om terug te gaan na ons ‘granny’ toe, en dit was duidelik dat ons ‘n groot las was en ons het gehoor hoe hulle onder mekaar gestry het dat hulle vir ons in ‘n weeshuis moet sit. Ons het nie eens geweet wat ‘n weeshuis is nie. Toe is ons in ‘n hoekhuis gesit, net ons en ‘n kleurling vrou wat na ons moes omsien, en ons was bang, want daar was nie straatligte nie, en ons het altyd ‘n getjank gehoor, en iemand het vir ons gesê dis strandwolwe.
Toe eendag het my tante weer vir ons Strand toe geneem, min het ons geweet dat dit net was om ons ‘granny’ te groet. Sy was oud en kon nie meer goed sien nie, maar het elkeen ‘n handsak gegee wat aan ons Ma behoort het. Ek het myne oopgeknip en my Ma daarin geruik. Daarna, na ons haar gesoen groet het, was dit die laaste wat ons van haar of ons Ma gehoor het. Net so! Toe weer terug na die ander familie.
Maar, toe het die nood tot ‘n ander wending ingeneem, en my Pa is toe weer getroud en ons kinders, met my Pa en my nuwe Ma het oor Bainskloof getrek na ‘n nuwe tuiste en ‘n splinternuwe lewe, en ons het liefde gevind.
Terug in die hede. Joyce en ek het die pad gevat Strand toe, en ek was omtrent verbaas om te sien hoe die plek verander het. Ek en my sus het toe al langs die waterlyn geloop, want daar was vlooimarke al langs die see langs. Ag, dit was vir my wonderlik om na al die snaakse goedjies te kyk, en ons kom toe by een plekkie waar daar ou juweliersware uitgestal was. My geldjies was skraps, maar ek sien toe ‘n blou string glaskrale, en ek het dadelik geweet ek wil dit besit, want die blou was soos die see en my Ma se gordyne in haar kamer was blou. Ons kinders het almal blou oë gehad, so nou dra ek soms my Strand blou glaskrale wat blink in die son, en as genesing dien vir die seerkry en verlange.
“Staan doodstil, moenie eers roer nie, en as julle jul gedra, mag julle haar sien”. Sy het lang swart hare wat sy vleg en vasmaak. (Dis die gebiedende stem van ons Tannie.) Maar toe ons haar sien was ons so opgewonde en bly en een van ons, kan nie onthou watter een nie, het saggies gevra, kan ons nie asseblief sien hoe lank haar hare is nie, en net daar het ons haar lief gekry, en ja, sy het haar hare stilletjies los gemaak vir ons en gesê: “Please call me Mummy, I am your new Mummy”. Die mooi vrou, wat by ons gestaan het lewenslank, deur dik en dun, het elke woord verdien. Elke keer as ons vir haar gesê het: “I love you Mummy”. Sy het eintlik ‘n kroon op haar kop verdien! Mummy het graag met ons kinders gaan stap, en baie keer het van die mense wat sy seker geken het, by ons gaan staan, om Mummy te groet en te gesels, en meer as een keer, het van hulle na ons kinders gekyk en gevra, “is dit nou die kindertjies?” en dan net gesê, “ai, foeitog”. Dan na my en Joyce gekyk en gevra: “is hulle twee ‘n tweeling?”, want ons het enerse rokke aangehad, en met ‘n glimlag het Mummy net na ons gekyk en ek het na Joyce gekyk en gewonder – is dit hoe ek lyk? Ons het van die uitstappies gehou, en ons verwonder aan die nuwe dorpie. Baie keer het ons as ‘n gesin na die veld toe geloop met ‘n piekniekmandjie, en ek kan net sê, dit was so lekker. Van die loop was ons ook moeg en het niks daarvan gedink om op die gras skuins te lê en ons toebroodjies geeët, waarop ons gewaarsku was om nie te lê en eet nie, want dan groei horings op jou kop uit. Dit het jou laat wonder – soos ‘n koei, of ‘n bok?
Die hele dorp was uitgelê met waterslote, skoon lopende water wat ‘n verfrissing was om in te loop en af te koel, heerlik!
My Pa was ‘n perd van ‘n ander kleur, van Duitse afkoms; my Oupa was ‘n direkte afstammeling van Duitsland, gebore en grootgeword daar, en geïmmigreer in die Eerste Wêreldoorlog. Ons kinders het vir hom Pa-Pa genoem en vir my ouma, Ma-Ma. Sy was van Walliese (Wales) afkoms. My Pa was baie lief om ons te leer sing. Hyself het baie uit volle bors gesing, en ons kinders het ook graag op ons kinderlike manier gesing. Hy het ons 4 dogters in ‘n ry van oudste tot jongste laat staan, gewys hoe om asem te haal en die mond wyd oop te maak, ens. Op die ou end het ons gesing terwyl ons skottelgoed gewas het, terwyl my ouers op die stoep gesit het. As ons ophou met skottelgoed was, en, ophou met sing, het hy gevra dat ons moet aanhou, en sommer koffie vir hul gemaak.
Maar, dit kan ek sê, my Pa was kwaai, baie kwaai! Maar bygesê, hy het ons baie geleer: karaktergewys – goeie maniere, eetgewoontes, reg sit, reg eet, reg aantrek, en gereeld Kerk toe gaan, en elke aand op ons knieë bid. Eendag het my oudste suster vir ons gesê dat ons ‘n babatjie gaan kry. “En hoe weet jy dit?” het ons vir haar gevra. Toe sê sy sy het ‘n nurse na ons toe sien kom met ‘n koffer in haar hand. “Nou wat beteken dit?” het ons gevra. “Ons dra ook koffers skool toe”. “Julle is dom, die babatjie is in die koffer” antwoord sy. En sowaar, toe ons van die skool af kom het ons die baba hoor huil. Wonderlik! Ons het beurte gemaak om die baba aan die slaap te sus. Sy naampie was Roy Frederick gedoop, daar was geen einde aan die liefde en geluk in ons huis nie.
Twee jaar daarna het nurse Jordan weer met ‘n koffer kom kuier, en weer was ons verstom, sowaar ook ‘n seuntjie, gedoop Daniel Theodore, en nog twee jaar daarna was dit ook weer ‘n seuntjie, Louis Edward. En na twee jaar, ‘n witkop dogtertjie, Laudene, genoem na Ouma, haar naam was Laudina. Ek wil graag noem dat Ouma het 104 jaar oud geword. Maar eintlik wil ek byvoeg, ons was toe 9 kinders. Maar in al die tye wat Mammie babas gehad het, het ek altyd geglo dat babas met ‘n tas kom. Tot eendag, ek was al in hoërskool, toe my vriendin my vertel het van een haar skoolmaats wat geskors is van die skool, omdat sy ‘n baba verwag. “O, ek wens dit was ek wat ook ‘n baba gaan kry”, was my kommentaar. Daar kom die vriendin uit met die hele mandjie patats van hoe ‘n mens ‘n baba kry. Ek was so kwaad vir haar, hoe kon sy sulke dinge sê! Maar toe sê sy haar ma verwag ook ‘n baba, en ek moet net kyk hoe groot is haar maag. Toe ek by die huis kom het ek dit uitbasyn aan my Ma en Pa. Ek is toe kamer toe gestuur en ‘n yslike pak slae het gevolg. Ek mag nooit weer met daardie meisie praat wat sulke dinge aan my vertel, sulke nonsens. Ja, ons was nege kinders, wat nooit na ‘n dokter toe gegaan het, wat gereeld kasterolie moes drink om ons bloed skoon te hou (‘n Dokter het eenkeer gevra – hoe word jou bloed vuil?). Dan het ons ‘n lemoen geeët vir die nasmaak in die mond. Maar my Ma het ons almal gedokter met Lennons’ medisyne. Seer keel? Gorrel met soutwater en drink ‘n Aspro. Nie nodig om uit die skool te bly nie. Sy het altyd self die huiswerk gedoen en sekere tye ‘n hulp gekry. So het Iffie eenkeer by ons gewerk. Ons het 4 vyebome in die jaart gehad, maar een van daardie bome was ‘n Adams vyeboom, dit was my Ma se vye en die boom was afgekamp dat niemand anders van daardie vye kon pluk nie. Eendag was my Ma en Pa dorp toe gewees, Iffie was besig om kombuisvloer te skrop, en ek het my kans gewaag, die versoeking was so groot om net een van daardie Adamsvye te proe. Ek het oor die heining geleen, die vy in my hand gehad, toe hoor ek net Iffie se stem. “Dit gaan ek jou Ma, vertel jy het een van haar vye gesteel”. Ek het so geskrik, my hart het so gebons dat ek na die buite toilet toe laat spat het en die deur agter my gesluit. Dit was nie lank nie, toe soek hulle my. Geroep en geroep en kon nie uitmaak waar ek was nie, tot my oudste suster aan die toiletdeur geklop het en gevra het wie daarin is. Maar ek het stilstuipe gehad en dus eers nadat sy my op my naam geroep en gesê het dat Mammie vir my ‘n paar skoene gekoop het en sy moet dit vir my aanpas so ek beter vinnig daaruit kom, dat ek besluit het om die deur oop te maak met blydskap oor die nuwe skoene. Nee, daar was nie sprake van die vy nie.
My oudste suster was ook al in die tienderjare wat, as ek dit so mag noem, ook al outjies gesien het wat vir haar loer, want sy was werklik mooi. Een so ‘n ou het gereeld by die huis verby geloop met die hoop om haar te siene te kry. Die uiteinde van die saak was, sy het vir Laudene in die pram gesit en entjies begin stap met haar. So het ons gesien as hy aangestap kom en haastig na haar geroep, sy moet kom kyk, hy loop al naby die huis. Min het ons geweet my Pa staan eenkant op die stoep, en toe Rhoda uitgehardloop kom uit die huis, was die duiwel los, en groot soos sy was, ek dink 17 jaar, het sy ‘n goeie pak slae gekry, want my Pa het net gesê – te oud vir jou skoene en toe val die houe. Ek dink die outjie het hom boeglam geskrik want ek kan nie onthou of ons hom weer gesien het nie. Miskien op ‘n ander roete.
Rhoda het ‘n vriendin gehad wat kitaar gespeel het, en soms het Sylvia en haar suster, Foden, met die kitaar na ons toe gestap en daar het ons ook lekker gesit in die kamer en saam gesing soos bv You are my Sunshine my only Sunshine, you make me happy when days are sad, you’ll never know dear, how much I love you, so please don’t take my sunshine away. En so het dit aangegaan, liedjie na liedjie, het ons gesing.
Sondae mag ons nooit sulke liedjies sing nie, my Pa het net opera musiek geluister en oor die radio, nou nog, as ek Erna sako hoor sing, herken ek haar stem dadelik, ons mag nie gemors musiek geluister het nie.
As iemand in daardie tyd verjaar het, het ons huispartytjie gehou en dan het blinde mense musiek kom maak om mee te dans. So ook trouerye se onthale by die huis met grammofoonplate se musiek. En op die manier het Rhoda met so ‘n verjaardag partytjie by Sylvia se ma se huis, ‘n ou ontmoet wat sy op verlief geraak het en hy op haar, en hulle het baie vir mekaar omgegee, maar soos dinge bestem is, is hy verplaas Kaap toe, en Rhoda het dadelik planne gemaak om ook werk te kry in die Kaap sodat hulle mekaar nog kan sien. So stap sy eendag na werk met ‘n vriendin wat vir haar sê dat die man met ‘n ander meisie danig is, het Rhoda dan nooit dit aangevoel nie? Maar sy sal vir haar wys as sy hulle twee weer so handjie handjie sien loop. En dit was ook so, my suster het byna ‘n senuwee ineenstorting gekry en na baie hartseer en ontnugtering, is sy weer terug huis toe, na ons toe. Sy het toe gaan werk by ‘n bakkery in die dorp en die outjie afgeskryf van haar lewe.
Die Tweede Wêreldoorlog was toe nog aan die gang, tye was swaar en geld was skaars, mense het baie gebrei om die soldate warm te hou en hier was tweedrag in die land, wat bekend was as Natte en Sappe en Ossewa Brandwags, (die Natte). Maar van politiek het ek min geweet net dat die Natte vir ons die rooinekke genoem het, en my Pa het na elke uitsaai geluister oor die radio oor wat aangaan. Dit was ander dae! Hy was eintlik op hoogte van sake gewees oor alles.
Die oorlogsprisoniers was in kampe, en so was daar ‘n groot kamp in ons dorp, vir Italianers. Ons skoolkinders het elkeen ‘n vlaggie gekry om te waai as die troepe met die trein van die Noorde aangekom het, dan het ons in rye op die stasie gestaan met ons Union Jack vlae en waai om die soldate te verwelkom, en my broer Ralph was ook een, ‘n soldaat, so ook meeste van my ouers se vriende, hul kinders.
Ons dogters, dis nou Joyce, Laura en ek, het behoort aan ‘n klub, wat hulle die Sun Beans genoem het, nogal ‘n uniform gedra, en elke Saterdag daaraan deelgeneem. Soms ver ente geloop om piekniek te hou, en sommer speletjies gespeel en diens gehou en gesing.
Intussen was daar weer ‘n liefde in Rhoda se lewe, want elke middag het daar ‘n Italiaanse kaptein op ‘n perd baie spoggerig by ons huis verby galop en ons was min wetend dat Rhoda die aantrekking was. Hy was ‘n baie aantreklike man, en sy het toe vir ons vertel dat hy na haar werk toe gekom het en vir haar vertel dat hy smoorverlief op haar was, en gesê dat as die oorlog verby was sou hy vir haar kom haal en saam neem Italië toe. Hy het pragtige silwer ringe vir haar gemaak. Ek was heelwat jonger as sy, en het dit alles baie romanties gevind, al was daar nog nie romanse vir my nie, dit sou later ook kom.
Eendag oppad terug van die skool, oppad huis toe, het ons by die St James Kerk verby geloop en die priester was besig om kerkklokke te lui, en ons kinders wat daar geloop het, geroep. Wat sou dit beteken het ons gewonder, maar hy het van oor tot oor gelag en gesê: “It’s V day, the war is over, and we must praise the Lord. Come, ring the bell now.” Toe is al die prisoniers teruggestuur na hul tuislande toe met die skip, en van Roberto was daar nie weer sprake nie en ons weet nie eens of hy miskien iets oorgekom het nie. En van die dinge was my ouers nie eens van bewus nie (bang vir my Pa).
Al was dit baie swaarkry tye, groot gesinne en min verdienste, was die mense nie swaarmoedig nie, baie kinders het kaalvoet skool gegaan en melk en toebroodjies by die skole ontvang, en die mense in die dorpie was nogal opgewek, partytjies by die huise gehou en gedans en vrolik, daardie dae was dit nie drugs, moffies en skelms nie. My Ma het baie familie gehad daar rond, plaasmense met groot harte, hulle het altyd, as hulle dorp toe gekom het, mandjies vrugte en groente saamgebring na ons toe, mandjies vol druiwe, lemoene, pampoene, te veel om op te noem, en my Ma het al haar eie konfyt gemaak, nooit blikkies oopgemaak nie. En as dit skoolvakansie was, het hulle gewoonlik van ons kinders saamgeneem plaas toe om daar te kuier, dit was wonderlik.
So het almal gesoen groet, al het hulle mekaar in die hoofstraat raakgeloop, altyd bly gewees om ons te sien. So was daar neef Louw en Niggie, (sy vrou wat ons net as Niggie geken het), hul dogter Totie, seuns Flip en Louwrens. Daar het ons ook baie gekuier op die druiweplaas in Rawsonville, genaamd Voorsorg. Niggie het familietering gehad, iets wat in hul familie was deur ondertrouery. Sy het altyd grappies gemaak en lekker gelag, haar oudste seun was Flip en hy het die familietering oorgeërf en het ook baie keer ons kom haal as hy by vriende op plase Saterdagaande gaan dans het. Daar was altyd die heerlikste eetgoed wat die plaasmense gemaak het, en ons het heerlik baljaar. Maar ons moes altyd ‘n sekere tyd tuis wees, of daar was groot probleme! Maar Niggie en haar seun Flip was elke nou en dan in Brewelskloof vir die teringbehandeling. Niggie se broer en susters het ook elkeen een of ander skeet gehad met die ondertrouery in die familie.
Eendag het neef Louw daar by ons aangekom en vertel dat Niggie weer in die hospitaal is, en dat Flip ook toevallig siek geword het, en in die hospitaal beland het, so was ma en seun gelyktydig in die hospitaal. En snaaks genoeg, hulle twee is op dieselfde dag oorlede, en die begrafnis sou op die plaas in Voorsorg wees, en my Ma en ek was ook daar. Stoele is op die stoepe gesit vir almal wat aan die roudiens deelgeneem het, en die dominee het die diens behartig. Dit was ‘n baie hartseer storie, want ek was lief vir Niggie. Kon nie glo dat sy so skielik van ons weg was nie – sy en Flip op dieselfde dag! Hulle van was Moller, en as ek nie ‘n fout maak nie, was hulle familie van die Mollers op Patatsrivier, onderkant Oupa en Ouma se plaas op Touwsrivier. Al die familie was welkom by ons huis en van ons het altyd ‘n ete en ‘n plekkie gehad vir almal wat kom inloer het, en Mammie het baie familie gehad wat kom kuier het. Vernaam Sondae dan het die wat kerk toe was by ons kom eet en die dag daar deurgebring. My Ma was altyd besig met die klein kinders en ons het gehelp waar ons kon. Dan het my Pa kos gekook wat, as ek uit die kerk uitgekom het en die reuk van die lekker kos gekry het wat ek altyd as my Pa se gekokery uitgeken het, hy het sy manier gehad om te kook. Aunt Ella en oom Johannes was ook baie gereelde kuiermense op Sondae na kerk, en by hulle het ons ook vakansies op ‘n plaas deurgebring. Dit was onder die Brandwagberge, ‘n pragtige plek, en soms het ons daarheen gestap, dit was ‘n ver ent se loop, en Mammie het net altyd gesê, julle moet ‘n hoed opsit vir die son.
Aunt Ella het twee susters gehad, Wilsie en Aunt Heleen. Wilsie was ouer as aunt Ella, maar sy was soos ‘n goeie vriendin vir ons. Sy kon baie lag en het vir ons baie vertel van hoe sy deur die kamervenster geklim het om by die boyfriend te kom wat sy skelmpies ontmoet het. Maar natuurlik nie sodat aunt Ella moet hoor en weet nie, want hulle het ‘n kwaai ma gehad. Aunt Heleen was vir my ‘n baie mooi vrou wat pragtig viool gespeel het. Sy het ook ‘n hartseer storie gehad, maar nooit daaroor gepraat nie en op die ou end is sy getroud met oom Org, en ‘n paar kinders gehad en op Nuy op ‘n plaas gewoon, waar ons vir hulle gaan kuier het. Almal het my Pa oom Boeta genoem en vir my Ma Lettie.
My Pa se familie het ook baie by ons kom kuier. Hulle het meestal in Tygervallei gewoon. My oupa was stug en as hy op ons stoep gesit het, mag ons kinders nooit om hom draai nie, nie met hom praat nie, hy het maklik vir my Pa gesê vat die kinders weg by my, dan moes ons agter in die jaart speel. Mamma was sagmoedig, en het gewoonlik vir elke kind ‘n tiekie gegee, wat daardie dae baie geld was. Ons kinders het nooit so iets soos sakgeld geken nie, en so ‘n tiekie het gebrand in jou hand, maar jy het vasgeklou solank jy kon, jy kon of ‘n poppie (seluloid) koop, of jy kon ‘n hand vol lekkers koop, wat ook ‘n skaars artikel was, of jy kon as jy ‘n sikspens het, bioskoop toe gaan met Pa se toestemming (hy het geglo dis die duiwel se huis), of jy kon tot ‘n tiekkie se klappers of selfs balonne koop. Want jy was nou ‘n ryk mens.
Mamma het vir ons ‘n grammofoon gebring. Ons het geen elektriese toestelle gehad in die huis nie, en ook nie dit gemis nie, want ons het water op die primusstofie gekook, behalwe as die swart Dover koolstoof aan die gang was en die ketel met water gevul, altyd ‘n plekkie gehad het op die stoof en gesorg het vir warm water. My Ma het altyd in die oggende kos gekook vir middagete, en my Pa het die aandete gewoonlik voorsien, hy kon ‘n hele bak kerrievis maak en ‘n dag of twee laat staan, want hy het geglo dat hoe langer dit staan, hoe lekkerder. Snoek was ook ‘n gereelde dis en hy het heerlike smoorsnoek gemaak. My Ma het waterblommetjiebredie gekook wat fantasties lekker was. Daardie dae het die vissmouse in die strate geloop en ‘n blaasding gebruik om sy teenwoordigheid tot ons aandag te bring en dit het gewerk, want ons het opgewonde my Ma geroep om vir ons vis te koop wat goedkoop by die smous was, maklik ‘n bos harders vir 2/6 (twee sjielings en ses pennies). So het die groentesmouse 25c ook in die strate gery met ‘n lorrie vol groente. En verder was daar baie Jodewinkels wat suiker, rys, paraffien ens verskaf het. Dit was lekker dae! Ons het nie ‘n kar gehad nie en dit nie gemis nie, eers in ‘n later stadium gekoop. Ons het die hoenders se mielies ook los gekoop en ek was altyd die een wat dit gaan haal het, oorkant die plein, by ‘n stoorwinkel, wat teen die winkel van David Kramer se pa s’n was. Maar die wonderlikste tyd van alles, was Kersfees, want ons het lank voor die tyd, begin goedjies maak vir die Xmisboom, muurbehangsels en stene vir die boom. Self uitgeknip en vasgeplak met gom (self gemaak) en kruis dwars op die mure vasgemaak, ons het so opgewonde geraak oor alles en dit was so mooi. Daar was nie geld vir geskenke nie, maar dit het nie gepla nie, want al het ons dit nie geweet nie, het my ouers klaar vir elkeen ‘n Lucky dip gekry, en baie goed weggesteek tot Kersfeesoggend, en eers toe ons tieners was het ons lekkerruik seep en waslap gekry wat ons baie bly oor was. Maar eendag net kort voor Kersfees het Ralph, my oudste broer, siek geword en moes hospitaal toe gaan met appendiks operasie. Ons het almal hospitaal toe gestap om vir hom te besoek, en toe ons weer by die huis kom het my Pa vir ons al die Kersfeesbehangsels en die Xmisboom laat verwyder en afhaal van die mure, want, het my Pa gesê, hoe kan ons so gelukkig wees terwyl my broer in die hospitaal was, ons moes vir hom bid om weer gou gesond te word, en hy het weer gou reggekom. Maar ou Kersaand het al die Kleurlinge bymekaar gestap in die strate en Kersfeesliedere gesing, dan het my Pa vir elke kind ‘n paar pennies gegee om in die blik te gooi wat hulle geskud het. So het dit aangehou tot na twaalf. Later aan die slaap geraak met die veraf gesingery. Daar was soms ook ‘n blaasorkes wat ook geloop het en musiek (Xmis) gemaak het. Paasnaweek het daardie blaasorkes van die Kleurlinge ook afgestap tot by die begraafplaas, soms tot saam met begrafnisse ook gestap, daardie dae het alles en almal uit respek, doodstil gestaan tot die stoet verby beweeg het, en die kerkklokke het die oorledene se ouderdom afgelui. Ouetehuise het nie bestaan in daardie jare nie, gewoonlik het ‘n ongetroude dogter of familielid na die ouers omgesien. So ook was daar nie spesiale sale in die hospitale vir kindergeboortes nie, daar was susters wat daarvoor gesorg het, ‘n voedvrou het hulle haar genoem en sy was baie deeglik met haar werk om moeder en baba te versorg, by die huis.
Sondagkoerante het altyd by die stasie afgelewer geword want dit het met die vroeë trein gekom en Sondagoggende het my Pa my vroeg geroep om sy koerant te gaan haal en vir my gesê dis goed om die vroeë lug in te asem, maar dit was vir my so lekker om so alleen te stap en my verkyk aan al die mooi blomme, dan het alles so ekstra vars gelyk, en ek het vars gevoel. So het ons ook met ‘n beker geloop en melk gaan haal, vroeg in die oggend, en daarvan het ek ook gehou, want die vrou wat die melk gehad het, het ‘n groot koejawelboom gehad wat sy vir ons aangemoedig het om die vrugte te pluk.
My Pa het altyd ‘n wakende oog oor ons gehou, ons het nooit gevra hoekom nie, net aanvaar sy woord was wet en ons het nooit teruggepraat met ons ouers nie, iets wat, as ek in later jare terug gekyk het, nogal trots op was, dat ons nooit ‘n lelike- of vloekwoord gebruik het in ons huis vir ons ouers of selfs met mekaar nie. My Pa het ons gewaarsku om nooit met vreemdelinge te praat of, as dit hard gereënt het in die winter en dit baie koud was, en iemand stop en offer om ons ‘n lift te gee skool toe, moet ons nie eers antwoord, maar net aanstap, al was jy deurdrenk van die koue en reënt, jy klim in niemand se kar nie. Al het ons by ‘n skoolmaat gaan speel, of huiswerk gedoen, moes ons vir my Pa sê wie die mense was, waar hulle woon, op ‘n spesifieke tyd terug wees. En glo my, dan het my Pa al by die hek vir ons gestaan en ingewag. En ons moes altyd ‘n sekere pas van die skool af loop, nie een dag met dié straat, en môre met ‘n ander nie. Hy wou altyd weet waar ons was, en as hy sê jy moet 5 uur terug wees, 5 minute oor vyf het hy begin loop om jou te gaan haal, en as jy hom sien het jy gehardloop huistoe.
So het my Pa baie keer vir ons gevra wat sal ons doen as die ander een, (dis nou ons regte Ma) vir ons konfronteer en vra of ons nie by haar wil gaan woon nie, en sê sy kan vir ons baie meer gee as my Pa, wat sal ons sê? Maar in die nag het al die dinge in jou geestesoog vorendag gekom tesame met nagmerries. En op ‘n dag het hy vir ons gewaarsku dat sy ‘n prokureursbrief geskryf het vir permissie om ons kinders te sien. Ons het nie vrae gevra nie, dit was grootmense se dinge, maar ‘n snaakse beklemming gehad en snags die komberse stywer getrek.
En op ‘n dag het ons van die skool gekom, en my Pa en sy het in die sitkamer gesit, o ja, sy was baie gretig om ons een vir een te groet, met arms uitgestrek, seker om ons te omhels, maar ons was bang, en niks gesê nie, net reguit kamer toe, waar ons kinders met mekaar die saak bespreek het. “Het jy haar gesoen? Nee, wat sal ons Pa sê. Waar was Mammie dan?” Sy was in hulle slaapkamer met die ander kinders, en so aangegaan. Toe Ralph sy matriek klaar geskryf en deurgekom het, het hy in die Kaap by Sanlam gaan werk, en toe Joyce haar matriek deurgekom het, het sy nog ‘n staatseksamen afgelê en deurgekom, sy was as ‘n genie beskou, volgens die onderwyseres, maar ek was die dromer. Baie keer my boeglam geskrik as die onderwyser my naam hard sê en as ek bloos van skaamte het sy gevra waarvan het sy nou net gepraat, dan moes ek staan en dan wil sy weet hoekom weet ek nie, en om alles te kroon, het die kinders nog spottend gelag. Dan kry ek dit – waarom is jy nie ook soos Joyce nie, net so slim, maar doen nie die regte ding. Joyce het na haar skoolopleiding, in Kaapstad gaan werk by Regeringsdienste, en by my Tannie in Tygervallei loseer. Maar my probleem was dat, al het ek in die klas gesit, was my gedagtes altyd elders, ek het gewonder waaroor gaan my Pa vandag raas as ons by die huis kom, of miskien nog pak kry? Het ek nie miskien iets op die vloer laat lê toe ek in die haas moes hardloop om by die skool uit te kom, want ek en Joyce moes in die oggend voor skool, eers beurte maak, een gaan slaghuis toe terwyl die ander een die kamer aan die kant maak, bed opmaak ens. Joyce was eendag besig met afstof, en sê toe sy sal waghou, ek moet gou in glip en in my Ma se Bybel kyk na ‘n koerantberig. Ek maak toe so en ja, daar was die uitknipsel van die saak van die vrou wat vyf kinders en haar man gelos het, en weggeloop het. Daardie jare was dit ‘n groot skande!
Mammie was nie ‘n stadsmens nie. Sy was ‘n nederige sagmoedige mens wat op ‘n plaas anderkant Touwsrivier, grootgeword het saam met haar broers en susters en Oupa en Ouma, in die Karoo.
Eendag het ons van die skool af gekom en ‘n lorrie het voor ons huis gestaan en toe ek ingaan het ek dadelik geweet dis familie wat hier kuier, en almal gesoengroet tussen die lag en gesels, toe sê Mammie vir my en Joyce, ons gaan dié skoolvakansie by die familie in Touwsrivier deurbring. Dit was ‘n nuwe ervaring want ons was nie voorheen daar nie, en was bly want ons het gehoor van al die diere en vrugtebome, en ons was lief vir my Ma se susters Aunt Sannie, en Danie, haar broer, Oom Louw en Aunt Susan en laat daardie aand oor die Hexrivierberge en donker by die huis aangekom op die plaas, en toe dadelik aan die slaap geraak. Maar dit het gevoel of ek in Alice in Wonderland wakker geword het, want ek het twee mense hoor sing, iemand was besig om die hoenders te roep kiep kiep daar het ‘n koei gebulk, en toe dit lig word het ek ‘n tafeltjie in die hoek sien staan met ‘n wasbak en beker water en handdoek en waslap en lekkerruik seep. En ek kan amper sweer ek het op ‘n veermatras gelê. En ek het appels geruik. En ek het gevoel of ek in ‘n ander wêreld was. Aunt Sannie was so ‘n mooi mens, en sê toe vir my dis Ouma en Oupa wat elke oggend 4 uur Godsdiens hou, dan gaan Oupa na sy koffie, lande toe en Ouma het gaan koeie melk, Aunt Sannie het die hoenders gevoer, dan steek Ouma die vuur aan en maak iets om te eet, tuisgebakte brood, eiers, heuning, bokmelk, botter (nie margarien nie) en ons het om die groot tafel gesit en in stilte dit geniet. Daarna is ons na die melkkamer en die melk afgeroom en soos stout kinders beurte gemaak om af te room. Soos die koffiepitte wat in die masjientjie gedraai word voor ons koffie maak. Daar was nie krane in die kombuis nie want die watertoevoer was te swak om pype aan te lê, maar daar was ‘n fonteintjie waar ons water geskep het. Mag ek dit so noem – maar ek het geglo die Here het dit alles as ‘n spesiale bonus vir ons gegee, deur om Mammie vir ons te stuur en al die ander wonderlike dinge wat ons beleef het. Danie het ons toe vertel van Boesmantekeninge wat teen die rotse was en ons soontoe geneem, van kristalle wat ook daar rond gelê het, ons het ook na die vrugteboord toe gegaan, gehelp appels pluk. Danie het ons geleer om turksvye af te pluk, skoon te maak en te eet, ons het na die dam toe gestap en onder die Wilgerbome gesit en net gekyk en waargeneem en teen sonsonder het ons buite op die stoep gesit en wag vir Oupa wat met die skape en bokke aangekom het en opgespring as hy naderkom en hom tegemoet gegaan. By die huis het hy sy pyp opgestop en in die kombuis gesit, met die laaste strale van die son wat op hom val, hy het sulke mooi bruin oë gehad wat geblink het. Dan het hy gesê Kathleen my kind, wat het jy alles vandag gedoen?
Saans na ete het ons almal nog om die tafel gesit en na dit afgedek is het Aunt Sannie die groot familie Bybel voor Oupa neergesit, daar het altyd ‘n groot lamp op die tafel gestaan, en dan het Oupa vir ons diens gehou en gebid, en ons het almal ‘n beurt gehad om ook ‘n gebed te doen, en as ons sing, het die ou hond by die voordeur gesit en saam gesing (tjank). Ek kon my verkyk na al die groot familie portrette, en gewonder watter een is wie?
Die plaas se naam was Wolwekop en die aangrensende plaas het ook aan Oupa behoort, dit was Slypsteen Kop, en Oom Louw en Aunt Susan het in die huisie teen die koppie, gebly, wat Oupa vir hulle as herberg gegee het toe hulle al twee van die oorlog terug gekom het. Daar is Bertha, Diensie en Bapsie gebore.
Ons het op die slypstene Botterboom gery en later terug gestap na Oupa se plaas. Maar eers ‘n draai gemaak by Oompie en Aunt Annie se plaas wat baie ver was, want ons het daar grammofoon gespeel; sulke mooi hartseer plate, ek onthou nou nog die woorde;
Liefling jy’s ‘n roos van skoonheid
En ‘n lelie vol van prag,
Ek verlang nog na jou ogies,
En jou lippies wat so lag, ens.
Roos van Mooi Rivier se vlaktes, ek sal jou kom pluk vir my! As die maan so helder skyn, lief, en die voeltjies vrolik sing, sal ek terugkom na jou liefling, daar sal ek jou liefde bring.
Daar is ‘n onbeskryflike rustigheid in so ‘n plaashuisie in die Karoo, en in Aunt Annie en Oompie se plekkie was dit so, daar was so ‘n klein dam voor met ‘n paar Wilgerbome. Die kantkleedjies was spierwit en gestywe in die sitkamer, gebrande koffie en koekies het Aunt Annie vir my gegee, ‘n dag om te onthou.
Sondae het Oupa Kerk gehou in die huis. Hy het ‘n Kerkbode gehad, wat gewoonlik die preek bespreek het, en dit was nie sommer so nie. Ons moes aantrek soos Kerk toe gaan, hoed op die kop, en sindelik wees. Elkeen het by Oupa gekniel op sy beurt, en ‘n gebed gedoen. So het ek ook die onse Vader gebid en halfpad vasgesteek, want ek het dit net in Engels geken. Joyce het deur haar neus gelag, maar Oupa het net gesê: Bid maar in Engels, Katheleen. Dan het Oupa Bybel gelees, en ons moes sê waarvan Oupa gelees het. Ek het net altyd gesê, van die Here.
Ek was baie beïndruk met die mense, die lewenswyse, die atmosfeer van alles, en die pragtige natuurskoon, absoluut ongekunsteld.
Na ek skool verlaat het, het ek altyd met my vakansie die trein gery oor die Hex Rivier berge en op die plaas gaan deurbring (toe ek gewerk het). Dan het ek soms stoksiel alleen oor die koppies geklim, gesoek vir kristalle, geweet ek is heel veilig, behalwe dat Ouma altyd gewaarsku het vir slange. Maar as mens so klim sien mens so baie dingetjies raak dat slange uit jou gedagtes is, dis so mooi, Blou Kop Koggemannetjies, klipspringertjies, baie diertjies wat net in die son sit en bak. Ouma het ‘n wakende oog oor my gehou, want kort kort het ek verlangs, my naam gehoor en as ek huis se kant toe gekyk het het ek vir Ouma in deur gesien staan en waai, dan het ek net terug gewaai. As ek by die huis terug was het ek vir Ouma gesê ek wil graag bad en sy het gesê by die fonteintjie is ‘n klein dam langs aan en as ek wil, kan ek inklim, en dan het ek uitgetrek en in die dam geklim met die eende wat rondswem en van die hoendertjies wat nessies het onder bosse om eiers te lê. Ek glo nie daar is nog so ‘n bad op aarde nie en ek het bewus geraak van liefde soos nooit tevore nie.
Tussen Oupa en Oom Louw se plaas was ‘n klein begraafplaas en alhoewel ons altyd gewonder het wie daar begrawe was het ons nooit tussen die grafte geloop nie, want ons het geglo dit spook daar.
Soms het Oupa vir ‘n hele jaar lank nooit ‘n druppel reënt gehad nie, maar saans as hy godsdiens hou en bid, het hy altyd die Here gedank vir al sy seeninge. Die fonteintjie het nooit opgedroog nie.
Oupa het ‘n kar en perde gehad, wat hy gebruik het as hy dorp toe gegaan het of soms as hy by buurplase gaan kuier het. En as ek my vakansie daar deurgebring het, het Oupa 4 uur in die oggend met my die pad gevat Touwsrivier toe, om betyds die trein terug te haal. Ouma het dan ‘n fles koffie gemaak en toebroodjies ingesit vir padkos vir my en Oupa. Om so in die donker te ry, met Oupa wat kort kort stop vir die perde om te rus, ‘n vuurtjie gemaak langs die pad as dit nog koud is, en van die buurplaas se mense wat bewus was van die tog, kan ek net sê, so vir ‘n sestienjarige soos ek destyds min of meer was, was dit onbeskryflik wonderlik. Dan het die perde nog name ook gehad. Daisy en Dora wat geluister het as Oupa met hulle praat. Hy het nooit die swiep op hulle gebruik nie.
Met die trein weer ooor die Hex Rivier berge was ‘n belewenis, so mooi, terug
Kort daarna het my Ma vir ons ‘n berig gewys wat in die koerant was, dit was die heengaan van my regte Ma en alhoewel ons nie ons gevoelens mag gewys het nie, het dit gevoel of my hart breek en eers toe ek by die werk kom het ek op die stoel gesit en uitgebars van trane en gesê dis ‘n vreeslike kopseer wat ek het, toe iemand my vra wat fout is. Maar ek het die doodsberiggie uitgeknip en diep weggebêre, want ek het geweet niemand sal verstaan nie. My Pa was woedend toe hy hoor dat Joyce en Rhoda, wat toe nog in die Kaap was, na haar begrafnis toe gegaan het. Jare daarna, na Joyce se man Jan dood was en ek en Joyce blomme op sy graf gaan sit het in Woltemade, het ek en sy in die rye geloop en soek na waar sy begrawe was. Dit was net ‘n hopie grond sonder enige teken van wie dit was, maar Joyce het die nommer van die plot grond onthou waar sy begrawe was, en ons het toe daar ook blomme gesit. Ek was toe 17 jaar oud.
Toe Joyce in die Kaap, Tiervlei gebly het het ek baie keer daar gaan kuier, dan die elektriese trein gevat in Stad toe en vir my verwonder aan alles en almal. So het ek en Rhoda ook die bus gehaal en omtrent baie rondgery, een keer was ons Kirstenbosch toe, eenkeer ‘n geskiedkundige plek, dan weer na Eveleig’s vriende en so aan, maar nooit eentonig gewees nie. Ons het eenkeer met aandrokke op die bus geklim en saam met die Eveleig’s gaan dans, eenkeer weer swemklere saam geneem en Muizenberg toe gegaan vir die dag. Dit was lekker, veilige dae gewees toe, en goedkoop.
Teen die tyd het Laura ook haar matriek klaar gemaak en goed deurgekom en ‘n beurs gekry om verder te studeer, en sy is Wellington se kollege toe, geleer vir onderwyseres.
Roy het sy matriek in Worcester se Hoёr Seunskool gemaak en in Kaapstad Universiteit studeer vir Siviele Ingenieur, Danie ook daar studeer vir Ouditeur, en Louis was Elektrisiёn. My ouers was afgetree en in Touwsrivier ‘n kafeetjie behartig, en Mammie was gelukkig om naby al haar familielede te wees, en ons, ek en Boet, het gereeld oor die berg gery vir naweke daar deurgebring. Rhoda en Gus wat in Welkom gebly het, het ook toe besluit om af te trek Touwsrivier toe, waar Gus mechanic was.
Ralph, my oudste broer het later, na hy by Sanlam weg is, as ‘overseer’ by ‘n diamantmyn in Oranjemund gewerk

SPESIALE GEBEURTENISSE EN ERVARINGS

KAROOLSIE
Diere kan ook soms die snaakste dinge aanvang, of miskien is dit vir die mens snaaks omdat ons nie altyd verstaan nie. Soos toe ek in Porterstraat in George gewoon het, en as ek see toe gegaan het, het ek altyd Karoolsie saam geneem en hy kon so tekere gaan as ek met my voete in die branders loop, en ek dink hy was bang die branders sou my insluk, of ek weet ook nie wat nie. Hy was ‘n Jack Russel, hulle stuit nie eens vir die duiwel nie, behalwe as iemand ‘n brandende klapper na hulle kant toe gooi, dan kruip hy so goed weg dat jy dae lank na hom moet soek.
Een oggend het Sandy, sy vrou, dood langs hom gelê, en hy het vir dae aanneen, selfs as dit reent, agter die bosse in die tuin gelê, niks geёet of gedrink nie, net daar gelê, ek het hom elke keer gaan haal en huis toe gedra en mooi gepraat, maar nee, as ek weer kyk was dit weer so. Toe vat ek hom na Dr Prins, die veearts, wat hom goed ondersoek het en ‘n inspuiting gegee het, en vir my gesê het dat so ‘n goeie hond baie keer baie erger as ‘n mens kan treur. En dit is so, want lank daarna nog, as hy met ‘n ander hond baljaar en opgewonde raak, sal hy skielik gaan stilstaan, sy koppie hoog oplig en net aan’t huile gegaan. My buurvrou Kristien het vir my gesê hy sien vir Sandy wat wil saamspeel.
As ons Wildernis toe gegaan het was dit omtrent ‘n gedoente met hom, want vieruur namiddae het die Tjoe Tjoe trein gewoonlik op sy fluit geblaas met die verby gaan terug George toe dan het almal in die trein vir die mense op die strand gewaai, en of dit nou vir hom ‘n teken was weet ek nie, want dan wou hy altyd die trein bestorm het en ek kan maar roep – Karoolsie, maar hy het nie opgehou trein jaag voordat die trein agter Kaaimansgat verdwyn nie!

KAPOKKIES
Ek het 3 Kapok hennetjies gehad en een Kapok haantjie toe ek nog in George gewoon het, ‘n lekker groot tuin waar hulle al my saadjies uitgeskrop het net so vinnig soos wat ek dit in die grond gesit het, maar dit was hulle, of die molle wat eerste was. Die Haan het die hennetjies beskerm waar hy kon, en bewaar die een wat naby die hennetjies kom terwyl hy daar rond trap, baas van die plaas! Sy naam was nie verniet – Kapok haantjie nie, want dit was hy beslis.
Ek het gewoonlik so 4 uur se kant ‘n paar mielies in die hoender hok gegooi om die kapok familie te lok, want dan wou ek vir hulle toesluit sodat ek met gerus my TV sepies kan kyk. Maar hy het hom so gevies vir my wat dit doen, want dan laat spat die hennetjies hok toe. Ek staan nog so eendag met die hoop dat hy die hennetjies sou volg, toe kry ek ‘n hou in my been van sy spoor en ek het lank met ‘n seer been geloop. Maar, hy was nie ‘n ou dom haan nie, en het gou begin planne maak met sulke kloek kloek kloek geluidjies, die henne een een op ‘n nes gesit waar hulle eiertjies gelê was, die drie henne op drie neste, en toe ek weer kyk, loop die haan op en af soos ‘n tronkbewaarder by die nessies verby, heen en weer. Die hennetjies sit gewoonlik 21 dae op die nes, dit is ‘n lank tyd vir haan om so te paradeer! Ek het maar alles so uit die kant van my oog gade geslaan, dood tevrede met die idee van ‘n klompie kuikentjies wat almal daar gaan uitbroei.
Maar, ek het deie haan onderskat, want een oggend was hy nie op sy pos nie, en ek het net gehoop dat daar nie ‘n hond of kat hom verslind het nie. Ek moes beter geweet het, ‘n ent verder van my tuin het mense ook ‘n hoender kommunikasie, en my kapok haantjie het soontoe verdwyn, en toe ek weer sien kom hy daarvandaan aangestap, ewe spoggerig, met ‘n rooiveer hennetjie, ‘n regte flerrie, aan sy sy. Hy het haar gehelp om oor die draad te spring na sy hok met die hennetjies, vir haar gewys dat hy hulle almal op nes gesit het en die twee het in die tuin rondgeloop. Ek moet beken, sy was ‘n pragtige hen met ‘n kuifie wat so skeef oor haar gesig gehang het, en ek was bly om haar daar te hê. Hy het haar die middag terug geneem na haar hok toe, en die volgende oggend weer gaan haal. Hulle het weer so saam saam geloop, maar daar was seker ook ‘n kwaai haan wat haar verbied het om weer so rond te loop, want dit was die laaste keer. Daarna was hy maar weer die Kapokkie bewaarder.

KAPOKKIE KUIKENS
Vir my bly dit ‘n wonder van die natuur as die kuikentjies so een een uitbroei. Dit pik aan die eierdoppe van binne af en dan hoor jy piep, piep, soos éééééhulle sukkel om uit te kom uit die dop. En daar is nie iets op aarde wat kan vergelyk met ‘n broeis hen wat op haar manier praat met die kuikentjies wat so sukkel om uit te kom na die ma hen toe nie, sy swel eintlik op en skree as jy naby die broeisel kom. En dis al wat jy wil doem, die kuikentjie optel en liefkoos, as jy kan, want hulle is net te pragtig, al word jy dopgehou deur die hen.
En as sy hulle almal uitgebroei het, kliek kliek kliek en kloek kloek sy en sprei haar vlerke uit, en hulle weet dis met hulle wat sy praat, kruip onder haar in, en maak die lieflikste geluidjies. Wonderlik. Dan loop sy met hulle in die tuin en wys die kleintjies waar al die wurmpies, goggatjies en goeters is wat hulle mag eet, en dan is dit nie lank nie, dan soek hulle self eetgoed, onder andere, saadjies van my. En sy praat haar eie taal met hulle, maak eienaardige geluide as sy vir hulle waarsku, en soos hulle groter word, weet hulle wat is wat. As sy ‘n valk in die boom sien sit, waarsku sy haar kuikens, en soos blits is hulle weg. Jy kan maar soek en roep, maar niks! Ongelooflik. Ek loop gewoonlik en kyk tussen grassies, of agter bossies, maar nee, daar is nie ‘n teken van die kuikens of hulle ma nie. Dit is dan wat ek die valk in die avokadoboom sien sit. En sy wag dat hulle hul verskyning moet maak. Maar, daardie kapokkies is nie verniet so bekend nie. Al kruip hulle tot laat weg, maar kom nie te voorskyn voordat die valk moed opgee nie en wegvlieg. Dan kan ‘n mens net verwonder staan en kyk, as sy haar bevel gegee het kom hulle uit hulle wegkruip plek uit. En dan dink jy nog, jy hét dan daar gesoek. Hoe is dit dan moontlik? Die natuur is wonderlik!
————————————————————————————————————————————————————————————–
Lukas by lughawe in Bloemfontein vir Boet gesoengroet en hand geskud met Linda toe ht PE toe moes vlieg vir kursus.
Johan wat in spieёel vasgeloop het in die donker kamer, toe honde erg geblaf het en ons, ek en hy gedink het dis inbrekers maar die honde het eintlik vir ons geblaf.
Koffie by Mary se huis wat eintlik gravy was!
Die dag toe ek en Frotz onwetend van mekaar in die verkeerde kar geklim het.
Sewejaartjies in Bloem ou man met bossie sewejaartjies na graf toe geloop.
Ek en Linda na Xmas geskenkies gesoek het in Bloem, skeerseep op toonbank. Linda vir Lucinda verwag en vrou in Winkel so ongeskik en Lin gesê het haar man vry lekker. Kyk.
Dries wat stoel agter op bakkie gesit het, vir my om op te sit in woonstel.
Emily se seun Pierre wat vir sy Pa sê hy het hulle met ‘n oom se lorrie rond gery (hy was 7 jaar.) Pierre wat kla oor kopseer en toe Emily hom ‘n aspro en water gee, sluk en sê a nou het hy nie meer ‘n kopseer.
Linda en Jenny het so erg geskrik toe ek masker op gesit het en gown en nappie op my kop, toe hulle my roep sê ek in snaakse stem hulle moenie skrik as ek die lig aansit nie.
Joyce wat vinnig gepraat het en toe vra Juf Heinz waarheen jaag jy, sê sy 8ste April, het gedink sy vra wanneer verjaar jy. Toe jaag Juf vir Joyce uit die klaskamer.
Vriendin van my jare terug het baba gekry en ek vra wat die naam is en sy sê Johannes Daniel toe sê ek maar die oudste seuntjie is ook Johannes Daniel. Toe sê sy haar man en sy Pa was ook Johannes Daniel toe noem hulle die oudste seuntjie na die oupa en die tweede seuntjie na die Pa (Johannes Daniel).

Categories: Familie Etikette: , ,
  1. Nog geen kommentaar nie.
  1. No trackbacks yet.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 457 other followers

%d bloggers like this: